Ons Schnauzerkinder(tjies)

BB, ons eerste Miniatuur Schnauzertjie, het in 2010 ons lewens kom verryk. Ek het ver gery om haar te gaan koop, want sy is in ‘n klein dorpie in Mpumalanga gebore – Piet Retief. Sy het haar plaasmeisieskoentjies egter vinnig uitgeskop.

BB, kort vir Bederfde Brak, is vreeslik bederf. Sy het saam met ons onder die komberse op die bed geslaap. En oral heen saam met ons gery. Uitgestrek. Op my skoot. Sy is so erg bederf dat Marnus vir my ‘n pienk handsak vir honde gekoop het sodat sy in my handsak kon pas. Sy was so soet toe sy saam met ons see toe is dat niemand geweet het dat ons ‘n woefie saam met ons gehad het nie. Met my hand op haar koppie het sy onder ‘n strandhanddoek doodstil gesit tot ons haar kon oopmaak om op die strand te speel. Ond het dit egter nog nie weer gedoen nie omdat haar haartjies so erg gekoek het dat ek haar na die uitstappie moes laat sny.

Op ‘n stadium het ek besluit dat BB ‘n maatjie moet kry, maar sommer haar eies moet maak. Nadat sy ‘n week by ‘n woef gaan deurbring het, het sy vir ons ‘n hele werpsel klein babatjies in die wêreld gebring. Ons het die name van Egiptiese afgode gebruik om vir elkeen ‘n naam te gee, twee uitgehou en die res verkoop. Sobek (Egiptiese afgod met ‘n krokodilkop) het sy naam gekry omdat hy een nag so stout was. Hy het die hele nag oor sy maatjies gekruip en dan het almal kele opgesit. Toe ek die volgende oggend vertel van die krokodil wat ons wakker gehou het die naam bly kleef en toe is daar sowaar ‘n afgod met die naam. Sobek is baie lief vir my en maak altyd seker dat hy weet waar ek is. Seth was die stoute afgod, dus het die lewendigste hondjie die naam gekry.

‘n Jaar later het sy weer gaan kuier en ons het weer twee uit die werpsel gehou . Met Sankie het ons nie ‘n keuse gehad nie. Sy het, toe sy ‘n week oud was skielik agteruitgegaan en op die veearts se hand gesterf. Sy het haar hartjie masseer en sy het weer begin asemhaal, maar was so swak dat die veearts toestemming gevra het dat  sy haar kan uitsit. En toe weier ek volstrek. Sy het ‘n ou haaslippie gehad en kon nie aan haar mamma drink nie, dus het ek, Marnus en Grace haar met ‘n piepklein botteltjie twee-uurliks gevoer en deurgehaal. Nou staan sy by die kosbakke en knor vir enige een wat naby wil kom. Hulle weet mos hulle het al haar kos verorber toe sy ‘n baba was! Shilo is my mooiste, kwaaiste Schnauzer. Hy vat enige iemand aan wat dit waag om naby my te kom.

Hierdie vyf Schnauzers verskil so baie dat mens hulle nie kan verwar nie. Hulle lyk wel volgens baie mense dieselfde, maar hulle geaardhede en kleur verskil wel in so ‘n mate dat hulle maklik uitgeken kan word.

BB is sout-en-peper en die gehoorsame eerste kind, maar sy weier volstrek om gehoor te gee as ek haar roep om saam met my te swem. Dan verdwyn sy stadig – eers agter plante om die swembad, dan muurlangs na hulle hok toe. Stadig. Asof sy eintlik net besig is om te kyk waar ‘n akkedis is. Maar sy hou my fyn dop. As ek die dag stout wil wees, gaan haal ek haar dat sy saamswem. Sy moet van die vetjies ontslae raak.

Seth is swart-en-silwer en Marnus se woef en het aanvanklik sy naam gestand gedoen – die terggees van die groep. Hy het eers hierdie jaar by sy geliefde baas gaan intrek, maar nou is hulle soos boude. Seth het heel gespierd geword want hy doen Parkruns saam met Marnus.

Sobek is sout-en-peper , baie erg oor my en dans selfs saam met my. Hy het ‘n gesiggie wat vra: “Wat het ek nou weer gedoen?” en is altyd naby my.

Shilo is swart-en-silwer en besonder mooi. Hy het ‘n houding wat skrik vir niks en vat enige wag aan wat te na aan ons waag of te vinnig om ‘n hoek kom. Hy byt nie, maar lyk kwaai genoeg dat ek saam skrik.

Sankie is pikswart, maar haar lyfie word effens grys. Sy is die kwaaiste van almal en as sy blaf, moet ek gaan kyk. Sy eet ook eerste, pas die kos ‘n ruk op en daarna mag die ander saam eet. Geen duif waag dit naby die bakke as y daar is nie – sy sit en wag vir hulle.

My vier Schnauzers is my hart se punte. Hulle verloor nie hare nie en ry die meeste van die tyd saam na ons plasie toe. Hulle sit vir drie ure op die agtersitplek en kla eers wanneer hulle die plaas begin ruik as ons by die hek stop. Soms blaf hulle vir iemand by ‘n robot en dan skrik ons behoorlik vir die skielike geluid in die kar. Gewoonlik is hulle doodstil, selfs wanneer ons gou stop en iets koop om te eet. Hulle ruk wel my sak wanneer ek hulle maandeliks vir ‘n mooimaaksessie vat…

%d bloggers like this: